Quantcast
Channel: Snotstories – Watkykjy, huh?
Viewing all articles
Browse latest Browse all 228

Om ADD in die DSM te kry en JMSP as jy LOL oor BDSM

$
0
0

(‘n Taamlike ernstige protes-parodie deur Barend Buitekamer)

Ek loop nou al vir baie jare rond met ‘n siel vernietigende grief jeens die Afrikaanse kunste bedryf. Van toeka se dae tot hede en of dit nou musiek, rolprente, skilderye of boeke is, die invloed van Afrikaner Dopper Delirium is net so onmiskenbaar en alomteenwoordig soos die reuk van ‘n week oue dooie muishond op die bodem van ‘n long-drop op ‘n warm dag in die Vrystaat.

Afrikaner Dopper Delirium, oftewel ADD, is ‘n term wat ek geskep het. Ek werk nog aan ‘n omskrywing daarvoor, sodat dit in die DSM (Diagnostic Statistical Manual) opgeneem kan word, sodat psigiaters in samewerking met farmakoloë ‘n neurologies aktiewe chemiese middel daarvoor kan vind; en sodat die middel in die vorm van bruis-setpille saam met staats-kondome gratis aan die Afrikaans sprekende publiek beskikbaar gestel kan word.

Ek is eindeloos gefrustreerd wat die skepping van ‘n aanvaarbare psigo-mediese definisie vir ADD betref; juis omdat dit net so ‘n wye spektrum soos outisme en skisofrenie dek, indien nie wyer nie. Die verdomde DSM is ook net een letter kort van BDSM, want ons word inderdaad gebind en gedissiplineer deur, en martel onsself met pille vir geestelike kwale waarvoor daar nie chemiese oplossings is nie, of wat sê ek? Vir die doel van hierdie futiele literêre oefening het ek ‘n oordosis kafeïen pille met ‘n Red Bull keel-enema ingejaag, en my gedagtes laat gaan kragtens voorbeelde, eie ondervinding en pseudo-filosofiese analise.

Ek kan nie vir almal praat nie, maar ek kan vir myself getuig. Daar is ‘n Engelse cliché wat lui: “If you spot it, you got it!” Nou ja toe, daar het julle dit. Ek ly ook aan ADD, maar ek het baie jare gelede besluit om iets daadwerklik daaraan te doen. Die eerste stap was om dit aan myself te erken, my magteloosheid teenoor dit te betuig, en om bereidwillig te word om ‘n pad van genesing te stap. Die res sou volg. En dit het. Ek het heeltemal befok in die kop geraak, en met geregverdigde woede in ‘n toestand van totale fisiese en geestelike opstand teenoor ADD ontwaak.
Ek het my verlede van die wiegie tot nou toe in oënskou geneem en tot die gevolgtrekking gekom dat ADD nie net geneties oordraagbaar is nie, maar ook aansteeklik is deur middel van kondisionering, klassiek en operant van aard. Vir my het ADD seer sekerlik ontkiem toe ek as baba amper in doopwater versuip was; soos aanbeveel in vóór geslagtelike kultureel- godsdienstige voorskrifte.

Wat daarna gevolg het, was drie dekades se intense sosio-dogmatiese kondisionering afkomstig van ouerhuis, maar meesal kerk, staat en kontemporêre media. Van kleuterskool tot laerskool tot hoërskool, was die drakonies-diktatorale opvattinge van kerk en katkisasie en Nasionale Party staat in my keel af forseer met ‘n paplepel gesmee uit Nederduitse stinkhout vernis met Dopper-dissipline. Bo en behalwe die ouerhuis, was die oordrag vektore van ADD sistematies-effektief gefokus; by wyse van deurlopende opvoeding en opleiding verskaf in sogenaamde jeug-weerbaarheid programme aangebied deur die Sisteem van kerk en staat in die vorm van veldskole, kadetkampe, nasionale diensplig en talle ander vrywillig-verpligte jeugaksies.

Op die ouderdom van elf jaar oud kon ek al mense bekruip en dodelike booby-traps stel in die naam van die Jirre en die Nasionale Party. Op die ouderdom van dertien jaar kon ek al, in die naam van die Jirre en die Nasionale Party, met ‘n R1 aanvalsgeweer skiet; asook uitmekaarhaal en aanmekaarsit. Na twee jaar se nasionale diensplig in die Jirre en die Nasionale Party se heilige weermag, was ek ‘n teenage mutant Boere killing-machine. Ek het nie net vyftig of ‘n honderd push-ups op ‘n slag gedoen nie. Nee. In die naam van die Jirre en die Nasionale Party het ek sommer almal gedoen. Ek het nie net om atletiek velde gehardloop nie. Nee. In die naam van die Jirre en die Nasionale Party, het ek sommer om die horison gehardloop. Full-kit. Met my spotter op my rug, en met ‘n scoped R1 en ‘n Bybel onder elke arm. Ja, ek was so taai soos die rowe op ‘n dooie ratel se gat wat vir twee weke in onuithoudbaar bloedige hitte op die pad tussen Leeu-Gamka en Fraserburg gelê het.

Ek en ‘n aantal van my ultra-gekondisioneerde kamerade het besluit om ons diensplig in die naam van die Jirre en die Nasionale Party te verleng. Sluit by die polisie of army aan. Travel die hele land vol. Ontmoet nuwe mense. Bliksem en skiet sewe soorte heilige kak uit hulle uit.
Townships toe.
“Daar gaat jy!”
Jy moet jou naaste liefhê soos jouself, maar…
“Storm! Bliksem! Moer die fokkers!”
Grens toe.
“Daar gaat jy!”
Jy mag nie moord pleeg nie, maar…
“Storm! Bullet! Skiet die fokkers! Voorwaarts! Amen!”
PRAISE THE LORD AND PASS. THE AMMUNITION!

Om aan vandag se kataklismies bedorwe slapgat generasie behep met dub-step, die Hel van Hoekom wat uit my generasie ontstaan het te verduidelik, is haas onmoontlik. ADD het nie net heelwat daarmee te doen gehad nie, dit het alles daarmee te doene gehad. Eng protestante verkramptheid van staat en kerk was die spil waarom alles gedraai het..

Die generasie gebore in die laat tagtigs en negentigs reken hulle is die apex van confused, maar hulle het nie ‘n mikro fraksie van die Hel van Hoekom geproe nie, hoef geen verduidelikings te gemaak het oor hul verlede nie, en het nog nooit dieselfde verlammende vrees en onsekerheid vir die toekoms gehad soos ons nie. Hierdie vrees en onsekerheid word dikwels weerspieël in die kreatiewe avonture en skeppings van my generasie, en dit lei tot veroordeling jeens ons afkomstig van beide die vorige en huidige generasie. ADD is dus ‘n bliksem van ‘n ding wat heen-en-weer- tussen generasies spring, maar op die ou end maak dit nie eintlik saak vanwaar dit kom nie. Wat saak maak is waar dit tans is en waarheen dit op pad is en wat dit betref het ek geen goeie nuus nie. Dit moet bloot net wortel en tak uitgeroei word. Hoe gouer hoe beter. Kennis is mag. Wysheid is prag. ADD verkrag.

Bo en behalwe sosio-dogmatiese kondisionering en drakonies-diktatorale opvoedkunde, is daar twee ander uitstaande kenmerke direk eweredig aan die tans vae omskrewe kern-definisie van ADD, naamlik sensuur en verkramptheid. Byvoorbeeld, tydens die vrywillig-verpligte veldskole wat  my generasie as kinders bygewoon het; asook ook in godsdiens, wat op skool ‘n verpligte vak was tot en met standerd sewe, was ons allerhande kak in die kop gepraat deur onse geliefde onderwysers, instrukteurs en ander tipes kindermolesteerders met hul verlepte persoonlikhede.

Jy mag nié na Led Zeppelin, Black Sabbath, Deep Purple, Pink Floyd, Kiss, Iron Maiden, Jethro Tull of enige iets soortgelyks luister nie, want dit is Satanies en jy sal brand in die Hel as jy daarna luister. Ek kan nog heelwat bands se name noem waarna ons verbied was om te luister, maar my rekenaar se processor en graphics card sal uitbrand as ek dit alles moet uittik. Cora Marie en Bles Bridges? Ja, enige tyd. Sonja Herold? Ja, enige tyd. Solank sy net nie Aqualung na jou sing nie.

Dieselfde geld vir die lys van boeke wat ons nie mag gelees het nie; asook die rolprente waarvan ons nie eers na die voorprente mag gekyk het nie. Onder ontelbare ander, was The Wall van Pink Floyd en A Clockwork Orange deur Stanley Kubrick daardie jare verban gewees deur die gedagte-polisie. Enige vorm van pornografiese vermaak, hetsy in ‘n in gesmokkelde Playboy of op VHS kasset, was onwettig en so uit soos meid-naai in die slegs-blankes kant van jou plaaslike polisiestasie se aanklagkantoor. Die Bybel? Ja, enige tyd? Leon Schuster en Lassie films? Ja, enige tyd. Rugby en krieket? Asseblief, gaan gerus voort. Sport is die opium van die massas. Gaan mainline voor die televisie met ‘n Huisgenoot op jou skoot; totdat jy so dom is dat jou gesig afval en jy dit as lap kan gebruik om die idioot-kwyl van jou sitkamerbank af te vee.
Jy mag jouself nié skuldig gemaak het aan die heidens-Sataniese praktyk van body-modification nie. Behoed jou lewe en behoed jou siel as jy met meer gaatjies in jou lyf by die skool of huis aankom as wat die Jirre jou gegee het. Behoed jou lewe en behoed jou siel as jy met ink in jou vel by die huis of skool opdaag, behalwe natuurlik, as dit ‘n geboortevlek is wat die Jirre aan jou gegee het.

Die oorsprong van daai geboortevlek gaan jy ook darem moet ‘n bietjie moet verduidelik, want daar was heelwat tannies en ooms in die Middeleeue wat soortgelyke vlekke gehad het; en wat vrywillig erken het dat dit die Merk van die Dier was, nadat Die Vraag onder liefderyke kerklike tug aan hulle gestel was deur Pastoor Thomas De Torquemada en sy ouderlinge. “Kom ons sê jou wat, geliefde suster? Al wat jy moet doen, is om in die naam van die Vatikaan van Fok te erken dat daardie vlek op jou linker skouer ‘n love-bite is wat die Duiwel jou gegee het terwyl hy jou van agter af in die hol genaai het. As jy dit doen, sal dit nié vir ons nodig wees om hierdie kerkklok dwars in jou poes tot by jou goiter op te druk nie.”

Yip, dis hoe dit tydens die Middeleeue gegaan het. Dit het uiteraard oorgespoel na die Middeleeue van die 1970’s en 1980’s van my generasie hier in Suid-Afrika. As jy ‘n tiener goose was en jy het vooruitstrewend geraak, preggies met ander woorde, dan het een van twee dinge gebeur. Jy moes of jou kind afstaan aan  die Wouter Basson pleegsorg-plan,  of jy moes uit die skool fokkof en ‘n jong  desperate huisvrou met OCD word. Jy mag daardie tyd nié genaai het nie. As jy en jou kys enige vorm van seks voor die huwelik beoefen, hetsy dit volle penetrasie of net ‘n hand-partytjie is, dan is julle kaartjies na die Hel geknip en dan sal julle saam met al die gays en tranny’s ewige hiernamaalse foltering verduur.
Moet ek aangaan? Ek kan en ek gaan, want ek dink dis nodig. Julle moet die idee kry. Die idee van ADD. Die ding is net, daardie tyd was daar nie iemand wat bewus of bereid was om dit te identifiseer, te analiseer, en toe te voeg tot die DSM nie. Vandag is daar. Ek en al die rebelse Generasie X Ellendelinge wat sukkel om kreatief êrens te kom in die kommersieël-kapitalisties gedrewe Afrikaanse kunste bedryf; wat tans nét so deurweek is met ADD as dertig jaar gelede.

Die subtiliteit van hedendaagse ADD maak dit nie minder vernietigend nie. Inteendeel, ten spyte van minder konserwatiewe wetgewing rakende  Eskimo pornografie byvoorbeeld, is die kern-aspekte van ADD (sensuur en verkramptheid) nog steeds nét so kragdadig lewendig as in die Middeleeue en dertig jaar gelede; indien nie meer nie.

Kyk maar na die bedenklike toestand die hedendaagse Afrikaanse kunste bedryf. Ek vind dit uiters onrusbarend, want alles gaan oor kommersiële en kapitalistiese gewin. Alle kuns moet moreel aanvaarbaar en anti-alternatief hoofstroom wees, want as dit die geval is dan verkoop dit. Alle kuns moet onderworpe wees aan die vae ongeskrewe wette en voorskrifte van kommersiële sensuur en kapitalisties gedrewe verkramptheid aangevuur deur ADD.

Soos ‘n bra van my onlangs opgemerk het: “Daar is nie meer kunstefeeste nie, want alles van Aardklop tot die KKNK het kommersieël geraak. Dis nou dus te-feeste en nie meer kunstefeeste nie.” Hierdie te-feeste het ontaard in geldmaak platforms vir korrupte bank borgskappe, skelm musiek en drama produksie maatskappye; asook kriminele Sjinese karaoke invoer konsortiums en Sudanese vetkoek stalletjies. As jy enige iets kan sing, dans, verf of opvoer; op die melodie van Achy Breaky Heart, dan is jou Afrikaner lebensraum by enige te-fees gewaarborg tot en met die wederkoms.

As artikels oor die kunstenaar en sy kuns nie in die Huisgenoot of Keur kan verskyn nie, dan is dit sosiaal onaanvaarbaar. As die sanger se liedjie nie tydens die Huisgenoot Skouspel, of tydens die opname van ‘n Noot vir Noot of Sewende Laan episode gesing kan word nie, dan is dit sosiaal onaanvaarbaar.

As ‘n skrywer of digter se pennevrug nie deur eerwaarde heilige broeders by die Nasionale Sinode van Kerke voorgelees kan word nie, of as dit nie woord vir woord in ‘n verdoemenis preek aangehaal kan word nie, dan is dit sosiaal onaanvaarbaar. As dit nie ‘n Christelike hyg-dagboek vir ‘n Bingo verslaafde geriatriese lesers mark is nie; of as dit nie die soft-core  egskeiding joernaal of naai-biografie van ‘n gefrustreerde huisvrou is nie, stel uitgewers net nie daarin belang nie. Lesbiese vampiere, lyk naai, kannibalisme en ultra-geweld is so uit soos duimspykers in ‘n effie fabriek. Jy durf nié hierdie onderwerpe eerlik en deeglik in Afrikaans aanspreek nie, want dit is sosiaal onaanvaarbaar en teenstrydig met Bybelse voorskrifte al is dit fiktief. Die Afrikaanse kontemporêre boeke-mark is van horison tot horison toe geplant onder pienk en pers papawer gedagtes uit die bladsye van Christelike dagboeke, Hantam wyk resepteboeke, rolbal biografieë en kultuur-kierie handleidings.
Moet ek aangaan? Okei bybie, ek sal.

Die Afrikaanse kontemporêre rolprent-mark is versadig met grensgeval gospel films oor armgat droogtegeteisterde gemeenskappe, wat hulle harte en bene oopmaak vir een of ander vertraagde karakter gebore uit die bloed-skandelike gedraginge van agtergeblewene dorpsmense of diesulke plattelanders se seksuele omgang met plaasdiere en miershope. En as dit nie hierdie Johnboy Walton tipe cinematic armlastigheid is nie, dan is dit ligte luim hoërskool zef-flieks oor jagse tiener yuppies wat die bloed uit ‘n waenhuis hoer sê tampon sal suig om te wys hoe kief of cool hulle is.
7de Laan Uncut is in my bra.
Bloed en derms is uit.
Die waarheid tel nie.
Alternatief is uit.
Anargisme is uit.
Realisme is uit.

Nou kom ons by beeldende kunste. Skilderye en daardie klas van dinge. Stil-lewes. Natuur tonele. Blommerangskikkings. Vrugtebakke en koekblikke. Piet Poes se verwaarloosde hoek-kafee êrens op ‘n stofpad in ‘n godverlate klein dorpie in die woestyn provinsie van Dumbfuckistan, Suid-Afrika. Olieverf op doek. Paint jou Pierneef geïnspireerde handtekening regs onder en raam dit. Gaan suig dan die piel van enige Nigerian met ‘n kunsgalery in Pretoria, en binne ‘n week kry jy ‘n brief van Johan Stemmet wat jou ‘n borgskap aanbied met die komplimente van ABSA. As jy weer jou oë uitvee, dan hang ‘n print van Piet Poes se hoek-kafee in Nkandla of die Withuis, en as kunstenaar smile jy al die pad FNB  toe.

Danksy ‘n geleerde vriend van my, wat verkies het om anoniem te bly, is ek nou in besit van die perfekte voorbeeld van die gevolge van ADD. Hierdie voorbeeld is van toepassing op die Afrikaanse musiek bedryf. Omdat hy ‘n eerlike ou is, het my geleerde vriend aan my erken dat hy dit geskryf het terwyl hy intellektueel narkolepties was as gevolg van akute alkoholiese intoksikasie. Met ander woorde, hy was poes-dronk gewees. My geleerde vriend is geensins ‘n musikant of digter nie, en hy het ook geen verbintenis met of belangstelling in enige produk, persoon, of entiteit in die Afrikaanse musiek bedryf nie. Hy het een donker en stormagtige nag bloot net poes-dronk geraak, en in ‘n momentary lapse of reason and sanity, het hy ADD perfek in lirieke verwoord. Hier is dit:

Aaaidiehaaaiii

My bybie, bybie, bybie
Jy laat my hart tjoklits pomp
Bybieeee aiiidieeehaaaiii
Jou skoolrok op my stoel
Laat ek jou kwassie voel
Aaaiiidiieeehaaaiiiii

Koor:
Aaaidiiieeehaaaiiii
Aaaidieeehaaaiiiii
Aaaidiehaaaaiii
Aaaaidieehaaaaiiiii
Aaaaiidiehaaaaiiiii
Aaaaidieeehaaaiiiii

Jou muis wys vuis
Jy lyk so tuis
Aaaidieehaaaiiiii
Kom ons kyk rugby
En braai ‘n tjoppie
Aaaidieehaai
Aaaidiehaaaii
Ek vat jou terug
Tot oor die brug
Aaaaidieeehaaai
Aaaidiehaaaiiii
Jou pa is bly
Jou ma is bly
En ek gaan nog jou sussie vry
Aaaaidiieeehaaaiiii…..
(herhaal koor ad infinitum)

En is dit nie absoluut manjifiek nie? Is dit nie onbeskryflik awesome en amazing nie? Die manne met die peroxide in hul stokkies-hare en waai-kuiwe, gaan mekaar mos half doodbliksem om dit eerste op die maat van Achy Breaky Heart te sing by die volgende Huisgenoot Skouspel, en die skares gaan dit love. Die filosofiese diepte en menslike drama verskuil in hierdie song is onpeilbaar kompleks. Van die eerste tot die laaste woord vind daar paradoksaal-paradigmatiese taal verskuiwings plaas; en wat onmoontlik is om in minder as dertigduisend woorde op te som. As vryskut taalkundige sonder hoegenaamd enige kwalifikasie buiten ondervinding, het ek besluit om die lirieke deur Google Translate te druk vir verdere grammatiese ontleding. Die resultaat was verstommend, en hier is dit:

Aaaidiehaaaiii

My baby, baby, baby
You make my heart pump chocolates
Bybieeee aiiidieeehaaaiii
Your school on my chair
Let me feel your brush
Aaaiiidiieeehaaaiiiii

Chorus: Aaaidiiieeehaaaiiii
Aaaidieeehaaaiiiii
Aaaidiehaaaaiii
Aaaaidieehaaaaiiiii
Aaaaiidiehaaaaiiiii
Aaaaidieeehaaaiiiii

Your mouse pointing fist
You look so at home
Aaaidieehaaaiiiii
Let’s look rugby
And fry a chop
Aaaidieehaai
Aaaidiehaaaii
I take you back
Up on the bridge
Aaaaidieeehaaai
Aaaidiehaaaiiii
Your father is living
Your mother is living
And I will have your little sister free
Aaaaidiieeehaaaiiii …..
(repeat chorus ad infinitum)

En daar het julle dit. Afrikaner Dopper Delirium (ADD) in al sy glorie, soos die septiese uitslag op die voos genaaide poes van die kommersiële hoer wat Afrikaans geword het, wat haar bene skaamteloos oopmaak vir enige iets fallies; al is dit die enigste kapitalisties-korrupte kaktus op die verskroeide vlaktes van kunstigheid in Afrikaans.

Namens myself en ander alternatiewe kunstenaars (skrywers, musikante, ens. ) wat sukkel om ‘n plekkie in die son van Afrikaans te kry, het ek die volgende boodskap aan alle eng-konserwatiewe Afrikaner protestante wat ADD willens en wetens bevorder: As ons nie ons plekkie in die son kry nie, gaan ons dit verduister. Vanuit die duisternis sal ons sorg dat diegene wat ons nie toelaat om te droom nie nooit weer slaap nie. Hier kom ‘n rewolusie. Miskien nie vandag nie. Miskien nie môre nie. Miskien ook nie eers in ons leeftyd nie, maar dit kom…

VREES AFRIKAANS!

Deel met jou tjommies!

    Viewing all articles
    Browse latest Browse all 228

    Trending Articles